Kanaal 7 (Channel 7)
Na 20 jaar het Kanaal Sewe Direksie en Bestuur besluit dit is tyd vir ‘n nuwe vars en moderner logo. Die simboliek en beskrywing van die logo is eg en opreg aan die visie en missie van Kanaal 7. BESKRYWING DIE SEWE Die syfer sewe simboliseer God se perfektheid, Sy soewereiniteit en Sy heiligheid. Die 7 is steeds primêr die fokuspunt en duidelik herkenbaar, maar is tog vereenvoudig. Die hoeke is meer gerond, juis sodat dit 'n meer moderne aanslag kan hê. Om daardie rede vertoon dit dan ook meer kompak. Omdat die evangelie juis nie net tot ons klein wêreld beperk moet word nie, "groei" die 7 as’t ware oor wêreldgrense heen. Dit oorvleuel die sirkel/wêreld. Omdat elke organisasie 'n struktuur nodig het om effektief te kan funksioneer word 'n sterk donkerblou kleur (bepalend van die struktuur/gesag) gebruik om gesag en beheer binne die organisasie uit te oefen. Die donker buitelyn verleen outoriteit en standvastigheid aan God se wil en Kanaal 7 se visie deurdat die 7 nou nog sterker na vore kom. In teenstelling daarmee is die aanwending van geel (die swakker kleur) binne die 7 'n toonbeeld van onderdanigheid en nederigheid aan Sy outoriteit en struktuur. Kleur: Geel – energie, vreugde, blydskap, opgeruimdheid, lewe en varsheid Kleur: Donkerblou – stabiliteit, outoriteit, verantwoordbaarheid, toewyding, uitmuntendheid en integriteit DIE RONDE "VOL" SIRKEL Rond en vol simboliseer perfeksie, sonder gebreke. Die soliede, ronde, ligblou sirkel verteenwoordig die sendingveld, die wêreld, in sy geheel. Die sirkel omsluit die hele wêreld as 'n sendingveld, volmaak ingesluit in God se "sirkel" of wil. Deur Sy perfekte wil vir Kanaal 7 te aanvaar kan ons nou vrylik daarbinne (die sirkel) beweeg. Kleur: Ligblou (Cyan) – omgee, spanwerk, energie en passie HALF-GEBROKE SIRKELS Simboliseer gebrokenheid (afhanklikheid), maar ook diensbaarheid. Kanaal 7 se Christelike beginsels en geloofsverklaring van die Drie-eenheid (Vader, Seun en Heilige Gees) word sterk beklemtoon deur die drie half-gebroke sirkel- of sein-groepe. Die sirkels is simbolies van K7 se strewe om die toonaangewende, interaktiewe Mediakanaal vir Jesus Christus te wees. Die Here gebruik juis dié wat "gebroke" en nederig van hart is om die evangelie te versprei. Matteus 5: 3 - 12 “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Sodra die evangelie in ons harte is, het dit 'n rimpeleffek VANUIT die harte van ons as Christene na die res van die wêreld, en word dit oor grense heen, reg rondom die wêreld versprei deur middel van radiogolwe/seine. En omdat Kanaal 7 reeds die bestaande en gevestigde platform is, word die "rimpeleffek" prakties toegepas deur dit as medium te gebruik tot eer en verheerliking van Sy Naam. Met netwerk en kommunikasie primêr in gedagte, skep die logo die perfekte aansluitingspoort/middelpunt (hub) wat mense, families, die gemeenskap en die korporatiewe besigheidswêreld bevoordeel. Op sy beurt, dui die gebroke sirkels baie duidelik die toekomstige rigting vir Kanaal 7 aan – GROEI NA BUITE! FONT Flexo - 'n Informele, half boksvormige font wat uitstaan in baie gebruike daarvan en vertroue inboesem. Dit sal in die meeste gevalle uitstaan in beide hoofopskrifte en teksformaat. Dit maak van die font 'n gewilde keuse vir die korporatiewe identiteit van Kanaal 7. Deur die font in kursief aan te wend word die oorgrote meerderheid van die luisteraars in Namibië in ag geneem. Dit is 'n mark wat plat op die aarde en mededeelsaam is, en die oorgrote meerderheid luisteraars wil juis nie as korporatief geklassifiseer word nie. Daar moet dus ruimte wees vir beide wêrelde: informeel sowel as korporatief. Die aanwending van die font is dus informeel (kursief) in dié geval, maar steeds beheers en professioneel. Deurdat die naam "Channel" (bo) en "Kanaal" aan die onderkant geplaas is, balanseer dit die logo. Daarmee word die Afrikaanse luisteraars se gevoelens en belangrikheid steeds as prioriteit gereken en erken, maar onderdanig tot ons nasionale landstaal. Dit is ook in ooreenstemming met Kanaal 7 se visie om die evangelie binne grense (tweetalig), maar ook oor grense heen te versprei in 'n internasionaal erkende taal – Engels.